This is Wolboer/Wool Farmer’s veterinary Q&A column, sponsored by Afrivet. Send your questions about animal diseases, biosecurity, and animal health management to
Hierdie is Wolboer/Wool Farmer se veeartsenykundige vraag- en-antwoord-rubriek waarvoor Afrivet sy kundigheid verskaf. As jy vrae het oor dieresiektes en -gesondheid, stuur dit na
VRAAG:
Wat is goeie raad om longontsteking by skape en lammers in die winter te voorkom?
>> ANTWOORD
Daar is ’n paar siektes in ons land wat berug is daarvoor dat dit tot hewige verliese kan lei as jy met skaap boer. Bloednier kan verwoesting saai as jou diere nie geënt is nie, en haarwurm het in die afgelope paar maande tot groot verliese gelei as gevolg van die uitermatige nat somerreënseisoen in sekere streke. Die derde oorsaak wat tot erge verliese kan lei in die wintermaande wat voorlê, is longontsteking.
Die piekseisoen vir longontsteking is tydens die laat herfs en vroeë wintermaande, met die groot verskil tussen dag- en nagtemperature wat ’n rol speel in die ontwikkeling van die siekte. Maar dit is slegs een van die faktore wat kan bydra.
Longontsteking se ontwikkeling is ’n komplekse proses met ’n menigte fasette wat ’n rol speel, waarvan omgewingstemperatuur en -omstandige slegs een is. Die belangrikheid van goeie bestuurspraktyke vir voorkoming kan nie genoeg beklemtoon word nie, en stres by veekuddes moet sover moontlik verhoed word om te verseker dat die immuunstelsel van die diere optimaal funksioneer. Stresfaktore sluit in die inkoop van skape van ander kuddes, meng van verskillende groepe diere, speen van diere, verandering in die voeding, skeer of dip van skape, of die vervoer van diere. Dit kan alles ’n rol speel in die verswakking van die immuunstelsel en die diere meer vatbaar maak vir infeksies.
Die verslapping van weerstand sekondêr tot stresvolle situasies word dikwels gevolg deur virusinfeksies, met virusse soos para- influenza tipe 3, respiratoriese sinksitiese virus en adenovirus, oftewel jaagsiekte. Dit veroorsaak dat die diere nog meer vatbaar is vir verdere infeksies, en die finale infeksie, wat ook dikwels die laaste spyker in die kis kan wees vir skape, is ’n bakteriële infeksie.
Longontsteking se ontwikkeling is ’n komplekse proses met ’n menigte fasette wat ’n rol speel, waarvan omgewingstemperatuur en -omstandige slegs een is.
Die grootste sondebokke ten opsigte van bakterieë in die siekteproses van longontsteking is Mannheimia haemolytica, met Pasteurella multocida en Bibersteinia trehalosi wat ook ’n rol kan speel. M. haemolytica veroorsaak pasteurellose of ‘bont-long’. Letsels kan wissel, maar wat tipies gesien word by nadoodse ondersoek, is dat die voorste derde van die long aangetas word, met ’n donkerrooi, pers of selfs swart verkleuring van die longweefsel, terwyl die longe baie ferm en swaar is.
Jong diere is die vatbaarste vir long- ontsteking. Soos reeds genoem, is goeie bestuurspraktyke om stres te verminder van die uiterste belang en daarmee saam moet voldoende ondersteuning van die immuunstelsel verseker word. Aanvullings wat toegedien word om tekorte aan spoorelemente en vitamiene te voorkom, speel ’n belangrike rol in die proses. Inspuitbare aanvullings kan toegedien word, maar orale aanvullings het die voordeel dat die nodige vitamiene en minerale geabsorbeer word en die oormaat uitgeskei word. Dit lei ook tot minder stres tydens toediening en sekere aanvullings se samestelling (verbindings met die regte aminosure) is ook van so ’n aard dat dit opname verseker en antagonistiese mineraalinteraksies wat opname voorkom, teenwerk.
Behalwe vir aanvullings, is immunisasie vir beskerming teen bakterieë en/of hul toksiene uiters belangrik. Inenting van dragtige ooie beskerm hulle gedurende die tye wanneer hulle die vatbaarste is – rondom lamtyd – en terselfdertyd verseker dit dat voldoende teenliggaampies in die biesmelk oorgedra word aan die lammers om húlle weer te beskerm. Immunisasie van jong lammers ongeveer ’n maand na geboorte sal ook verdere beskerming kan bewerkstellig, veral in stresvolle tye soos tydens speen.
Om die siekte te voorkom is die ideaal, maar ’n persentasie van diere sal steeds simptome ontwikkel wat insluit koors, hoes, verlaagde voedselinname en neusafskeidings. Behandeling bestaan uit ondersteunende behandeling in die vorm van elektroliete, wat verkieslik in drinkwater toegedien moet word eerder as deur orale dosering om stres te verminder. Verder kan die diere ook behandel word met antibiotika. As die siekte reeds vroeg geïdentifiseer word, kan oksitetrasiklien-bevattende middels toegedien word, maar as die siekte al verder gevorder is, word sterker antibiotika wat by ’n veearts aangekoop word, aanbeveel.
Longontsteking is een van daardie siektes wat maar altyd sy kop weer sal uitsteek in jou kudde, maar goeie bestuur, antisipasie en voorkoming van stresvolle tye, voorkomende inentingsprogramme en ondersteuning van die immuunstelsel sal jou verliese beperk. Vroeë bespeuring en ingryping deur behandeling moet ook beklemtoon word. Longontsteking sal altyd ’n toets wees vir die bestuur van jou kudde, maar met doeltreffende bestuur en voorkoming van die ontwikkeling daarvan kan jy jou diere beskerm en jou produksieverliese verminder.
Wolboer/Wool Farmer | Vol 10 Nr 3 • 2022